OUDTSHOORN NUUS - AfriForum het Donderdag 11 September met verteenwoordigers van Oudtshoorn-munisipaliteit vergader om besware teen die voorgestelde verkoop van openbare parke te bespreek.
Hans Malgas (eiendomsbestuurder, Oudtshoorn-munisipaliteit), Clyde Avontuur (hoof: regsake, Oudtshoorn-munisipaliteit) en Jaco Eastes (hoof: beplanning, Oudtshoorn-munisipaliteit) het die vergadering gelei.
Dit spruit uit 'n kennisgewing wat deur Oudtshoorn-munisipaliteit geplaas is om die ver-vreemding te adverteer.
AfriForum insette
'n Petisie met meer as 260 handtekeninge teen die verkoop van die parke is oorhandig. Die kernpunte van die betoogskrif is kortliks bespreek:
- Oudtshoorn het 'n tekort aan openbare ruimtes.
- Die vliegveld wat vroeër as openbare ruimte gebruik is, is nou ontoeganklik.
- Skole is minder gewillig om hul sportterreine vir die publiek oop te stel.
- Parke wat deur AfriForum opgeknap is, is gewild met daaglikse besoekers wat selfs uit ander woonbuurte kom om dit te gebruik.
- AfriForum het beklemtoon dat dit die kritieke belang van toeganklike openbare ruimtes in elke woonbuurt staaf.
- Oudtshoorn-munisipaliteit se IDP-dokument beaam die belangrikheid van openbare ruimtes.
Munisipale standpunt
Volgens Avontuur is baie van die parke en oop ruimtes vervalle en word deur misdadigers misbruik. Onwettige storting en grondbesetting is groot uitdagings. Hy het benadruk dat die munisipaliteit verplig is om bekostigbare behuising te voorsien, onwettige storting en grondbesetting te voorkom en 'n klimaat vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling te skep.
Volgens hom moet daar 'n balans wees tussen behuising, ontwikkeling en openbare ruimtes.
AfriForum voorstelle
AfriForum sê hulle het reeds sukses met die opknap van parke behaal en dat gemeenskapsondersteuning soortgelyke projekte moontlik maak sonder ekstra druk op munisipale dienste.
Volgens hulle help die buurtwag ook om misdaad te bekamp. Hulle waarsku dat nuwe hoëdigtheidsbehuising die behoefte aan parke sal verhoog en dat die verlies van bestaande ruimtes bykans onherstelbaar sal wees.
Munisipale uitdagings
Die munisipaliteit sê daar is 'n tekort aan geskikte grond in Oudtshoorn se woonbuurte en ondervind druk van die besigheidskamer om parke vir behuising te ontwikkel. Ander voorgestelde persele is nie geskik nie, maar hulle stel voor om parke na minder aantreklike erwe te verskuif om ontwikkeling moontlik te maak.
Besigheidskamer onthuts
Abri Ferreira, voorsitter van die Oudtshoorn-besigheidskamer, ontken dat die kamer ooit voorgestel het dat parke vervreem moet word vir behuising. Hy sê hulle het slegs aanbeveel dat die munisipaliteit grond beskikbaar maak.
Ferreira betreur dat amptenare die kamer in 'n swak lig stel en beklemtoon dat hulle die behuisingsvraagstuk wil help aanspreek. "Ons distansieer onsself van die bewering en sal die uitslag van die publieke deelnameproses aanvaar."
Pad vorentoe
'n Opvolgvergadering is voorgestel om spesifieke parke en alternatiewe erwe op 'n kaart te bespreek. Hierdie vergadering sal binnekort gereël word om konkrete voorstelle verder te ondersoek.
Vorige berigte:
- AfriForum dring aan op behoud van Oudtshoorn se parke en oop ruimtes
- Kommer oor onwettige strukture in begraafplaas
- Onwettige strukture steeds 'n bron van kommer
- Planne vir kindersorgsentrum kry steun
- Alle rolspelers moet om die tafel sit
- Inwoners keelvol vir sosiale probleme in Oudtshoorn
- Wie sit kos op die tafel?
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’