Gallery
OUDTSHOORN NUUS - De Rust was weer hierdie jaar die gasheer vir meer as 3 000 atlete wat deelgeneem het aan die 31ste Momentum Optimum Meiringspoort 12.5 km en 21.1 km-wedlope.
Suezette van Eeden Smit het almal op hul tone gehou met haar opgewekte persoonlikheid en passie vir die sport en geleentheid.
Donderdagaand tydens die borgefunksie is daar gesellig saam met genooide gaste gekuier en die onderskeie borge is bedank dat hulle dit moontlik maak dat die immergewilde Meiringspoort-wedlope jaarliks in een van die mooiste poorte in die Klein-Karoo kan plaasvind.
Die halfmarathon word as een van die mees georganiseerde wedlope gesien. Vroegoggend is atlete met busse en vragmotors deur die poort na die onderskeie wegspringplekke by die waterval (12.5 km) en agter die poort by Klaarstroom (21.1 km) geneem. Onderweg na die eindpunt is daar ook jaarliks onderskeie waterpunte waar atlete lafenis kan kry in die vorm van koue water, koeldrank, lemoene, asook ietsie om aan te kou.
Hierdie jaar was die weer perfek wat sake ook ietwat makliker vir atlete gemaak het.
Een van die hoogtepunte is die eindpunt in De Rust waar atlete, besoekers en toeskouers heerlik kon kuier by die basaar en die groot tent waar die prysuitdeling plaasgevind het.
Die volledige uitslae is beskikbaar op die amptelike Momentum Optimum Meiringspoort webtuiste.
Fotogalery: Pret, plesier en uithou tydens Meiringspoort Marathon
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’