Update
OUDTSHOORN NUUS - Lofsang, huldeblyke en die viering van JP Sauls (24) se lewe het vir hoendervleis oomblikke gesorg tydens die troosdiens wat Dinsdagaand 12 November in Ecstacystraat vir hom gehou is.
Familie, vriende, asook lede vanuit die Bridgton-gemeenskap het die geleentheid bygewoon. Die impak wat Sauls gemaak in die lewens van sy familie, vriende, kollegas, asook die res gemeenskap was duidelik.
Sy ouers, David Sauls en Rosie Lottering, sy verloofde, Kayla Danster, broers Sedwick Sauls en Roberto Botha het ook die troosdiens bygewoon.
Uit die huldeblyke was dit duidelik dat hy geliefd en betrokke was, asook 'n jongman was met groot drome en aspirasies vir die toekoms.
In gesprek met David vertel hy dat PJ lief was vir sport.
"Hy was pligsgetrou en het hard gewerk. Hy het respek gehad vir almal, was bitter lief vir sy ma en het 'n groot groep vriende gehad. Hy het my laasweek geskakel om te vertel dat hy ingekom het by Potchefstroom Universiteit om sy Honeursgraad te voltooi. My seun het soveel drome gehad, maar ons het berusting dat die liewe Here 'n rede het vir alles.
"Hy het aan 'n toekoms gebou vir hom, sy verloofde Kayla en hul vierjarige dogtertjie, Kiané Die familie gaan hom baie mis. Sy kamer is leeg, sy plek is leeg, ons mis sy stem, sy glimlag, ons mis net wie hy was, 'n dierbare, liefdevolle, hardwerkende jongman. Hy was so gelukkig in sy werk en was baie lief vir sy skoolkinders by PJ Badenhorst Primêr in Dysselsdorp waar hy 'n onderwyser was."
Troosdienste
Die familie het besluit om Woensdag 13 November 'n tweede troosdiens te hou te Ecstacystraat 9 om persone te akkommodeer wat nie die troosdiens Maandagaand kon bywoon nie.
Donderdag 14 November om 17:00 vind 'n kranslegging plaas in Voortrekkerstraat waar die ongeluk gebeur het.
'n Finale troosdiens vind Donderdagaand 14 November om 19:00 plaas vanuit die Christelike Herlewingskerk. Hy sal ook Saterdag 16 November uit die kerk begrawe word.
Die ongeluk
Sauls se voertuig is na bewering deur 'n dronkbestuurder getref waarna hy teen 'n muur gebots het. Hy is oomblikke voor die voertuig begin brand het uit die voertuig gered, maar het op die toneel aan sy beserings beswyk. Die bestuurder van die voertuig is vir strafbare manslag en die bestuur van 'n voertuig onder die invloed van drank in hegtenis geneem.
Vorige artikel: Troosdienste vir PJ Sauls beplan
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’